Die doel van die Taalpraktyk 2 module is om jou bekend te stel aan die belangrikste vaardighede wat nodig is om in die taalpraktykomgewing te kan funksioneer. Dit sluit blootstelling aan egte taalpraktyktake en die leer van vaardighede van die taalpraktykbedryf in.

Die eerste semester stel jou bekend aan die verskeie fasette van die wêreld waarbinne die taalpraktisyn funksioneer en ook aan die verskeie take en rolle wat so ‘n professionele taalpraktisyn onderneem. In die eerste kwartaal is die fokus op algemene, meestal elektroniese, hulpmiddels en vaardighede wat jy as ‘n taalpraktisyn nodig het. In die tweede kwartaal is die fokus op redigering en die hulpmiddels wat deel uitmaak van die redigeerder se toerusting. Op hierdie manier sal jy die ingewikkelde verhouding wat tussen kennis, vaardighede en (elektroniese) hulpmiddels bestaan, ervaar.

Gedurende die tweede semester word jy ook bekendgestel aan die praktiese aspekte van vertaling en tolking. Die vertaalkomponent fokus op die vertaling van tekste vir spesifieke doeleindes, insluitend ‘n inleiding tot die vertaling van algemene tekste, die toepassing van vertaalstrategieë en die gebruik van rekenaargesteunde vertaalhulpmiddels. Die tolkkomponent fokus op gemeenskapstolking. Hier word jy bekendgestel aan die praktyk van tolking en fokus op onderwerpe soos hoftolking, mediese tolking, etiese oorwegings in tolking, sigtolking en ‘n kort inleiding tot kort konsekutiewe tolking. ​