Linguistiek behels die studie van een van die belangrikste grondslae van alle menslike interaksie: taal. Hierdie module stel jou bekend aan ‘n verskeidenheid benaderings tot die studie van mensetaal, insluitend nie net aspekte van taalklanke, -woorde, -strukture en -betekenisse nie, maar ook vrae soos byvoorbeeld hoe skryfstelsels ontwikkel het, hoe kinders taal verwerf en hoekom verskillende sosiale groepe verskillende taalvariëteite gebruik. ​

Linguistiek is dus gemoeid met die studie van taal as sodanig en jy sal leer hoe om linguistiese beginsels nie net op Engels toe te pas nie, maar ook op enige ander tale wat jy alreeds praat of besig is om te leer praat. Die module stel jou in staat om hoe taal werk ten volle te begryp en vorm dus ‘n onontbeerlike grondslag vir verdere opleiding in die hooftaalberoepe, insluitend teksredigering, vertaling en tolking. Dit is ook nuttig in ander beroepe waar taal ‘n belangrike rol speel, soos byvoorbeeld onderwys, uitgewery, joernalistiek en bemarking.