Oorsig

Die kursusse wat die Departement Afrikaans aanbied, maak deel uit van die sogenaamde breë, vormende programme wat deur die Universiteit van Johannesburg aangebied word. ’n Universiteit het immers die verantwoordelikheid om nie slegs tegniese en beroepsgerigte vaardighede te verskaf nie, maar ook om kritiese vaardighede te ontwikkel.

Taal- en literatuurstudie maak ‘n sentrale deel van enige Fakulteit Geesteswetenskappe uit aangesien dit noodsaaklik is vir die estetiese, kritiese en refleksiewe ontwikkeling van studente. Taal- en letterkundekursusse stel studente in staat om hulself te verstaan as produkte van en as deelnemers aan die tradisies van kuns, idees en waardes. Die kennis van spesifiek die Afrikaanse taal- en letterkunde help studente om die wêreld en hulle plek daarin beter te verstaan, om te besef dat hulle self deel uitmaak van ’n tradisie en dat hierdie tradisie ook in ‘n bepaalde verhouding met ander tradisies staan.

Die bestudering van letterkunde help ons dus nie in die eerste plek om die fisiese wêreld om ons beter te verstaan op die manier wat die werk van natuurwetenskaplikes dit doen nie. Wat deur kunswerke “ontdek” word, is iets van die aard van die mense uit wie se verbeelding die werk voortgekom het, beïnvloed deur ’n baie besondere waarnemingspunt op ’n sekere tydstip, wat absoluut uniek is. Daarom is die bestudering van kunswerke ’n ondersoek van die manier waarop mense in die wêreld bestaan, van wat dit is om mens te wees.

Afrikaanse literêre tekste word bestudeer ten einde ’n historiese oorsig te verskaf, maar ook word die maniere waarop gelees word, waarop tekste benader word krities ondersoek.

In die Afrikaanse taalkunde word die studie gerig op die struktuur van taal – en in besonder die struktuur van Afrikaans. In hierdie verband word die klankstruktuur, woordstruktuur, sinstruktuur en betekenisstruktuur in die kollig gestel. Die bestudering van die genoemde strukture geskied vanuit twee gesigspunte, naamlik ’n historiese en ’n eietydse. Die historiese (diachroniese) bestudering van Afrikaans laat die fokus val op die ontstaan en ontwikkeling van Afrikaans as sodanig, maar ook op die ontwikkeling van bepaalde strukture van die Afrikaanse grammatika en semantiek. Die eietydse (sinchroniese) benadering laat die klem op die hedendaagse strukture val.

Afrikaans AB

Die Afrikaans AB-kursus is gerig op studente wat nie moedertaalsprekers van Afrikaans is nie. Die klem in hierdie kursus val op die ontwikkeling van basiese taalvaardigheid (lees-, skryf- en praatvaardighede). ’n Kombinasie van die kommunikatiewe benadering tot taalverwerwing en formele taalkunde word gevolg.

Moedertaalsprekers en studente wat Afrikaans as tweede taal in matriek met meer as 60% geslaag het, moet Afrikaans 1AB neem.

Inhoude

Alle voorgraadse kursusse is semesterkursusse.

Afrikaans A en B is selfstandige semesterkursusse. Afrikaans A en B verleen nie toegang tot Afrikaans 2 nie.

Op al drie jaarvlakke word elke semester taal- en letterkunde aangebied.

Taalkunde

Afrikaanse sintaksis, fonetiek, semantiek, morfologie en taalgeskiedenis word oor die drie jaar heen aangebied.​

Letterkunde

Die Afrikaanse prosa, poësie en drama word aangebied sodat enersyds individuele werke ondersoek word en die metodes van liteartuurondersoek aangeleer word aan die hand van individuele tekste. Voorts word die Afrikaanse literatuur binne ‘n breër historiese en kunsteoretiese konteks (Romantiek, Modernisme, Post-modernise/postkolonialiteit) geplaas. Derdens word tekste ook binne die konteks van “kulturele sudies” ondersoek.