Taalpraktyk 1 fokus daarop om jou bewus te maak van die krag en uitwerking van een van die belangrikste werktuie in die samelewing: taal. Dit sal jou ook toerus om taal- en kultuursensitief te wees in professionele kontekste soos vertaling, tolking en teksredigering sowel as die wêreld van multimediakommunikasie.

Die module is op twee hoofkomponente gebaseer: in die eerste semester sal jy bekendgestel word aan die teorie van taal- en teksbewustheid op gekose, spesifieke kommunikasie-sensitiewe professionele gebiede sowel as bewus gemaak word van die vaardighede wat nodig is om tekste in verskeie genres te kan herken, verstaan en skep. Hier sal jy onderwerpe soos hoe tale werk en gebruik word, vooroordeel in taal en manipulerende taalaspekte sowel as identifisering van lees- en algemene ontvangstrategieë, ondersoek.

In die tweede semester beoog Taalpraktyk 1 om jou vertroud te maak met die verband tussen taal en kultuur en die uitwerking van kulturele en sosiale strukture en prosesse op kommunikasie tussen kulture. Daarbenewens, sal jy ook toegerus word met die nodige vaardighede wat sulke kommunikasie vereis. In ‘n veeltalige en multikulturele wêreld soos ons sʾn, verskaf die module ‘n waardevolle grondslag vir die taalpraktisyn.​