In Linguistiek 3 sal jy bekendgestel word aan die teorie en praktyk van vertaling, tolking en teksredigering. In die vertaal- en tolkkomponente sal jy insig verkry in die hoofbenaderings in vertaal- en tolkstudies en in die teksredigeringskomponent sal jy fokus op die koppelvlak tussen tekslinguistiek en teksredigering. Aangesien woordeboek- en terminologiewerk ‘n integrale deel uitmaak van enige taalpraktisyn se daaglikse take, sal ons ook aandag skenk aan die basiese beginsels van leksikografie en terminologie. ​

Buiten die teoretiese en praktiese benaderings tot vertaling, tolking en teksredigering, sal jy ook vaardighede in elektroniese dokumentbestuur en vertaalgeheuesagteware leer. Ons sal jou ook vertroud maak met die verskeie aspekte van vertaling, tolking en teksredigering as ‘n loopbaan.

‘n Kenmerk van ons Linguistiek 3 module is ons internskapprogram. Gedurende die wintervakansie sal jy praktiese ervaring opdoen op die gebied van vertaling, tolking en teksredigering. Jy kan kies op watter gebied jy wil spesialiseer: vertaling en teksredigering of hoftolking. Indien jy vertaling en teksredigering kies, sal jy in ‘n taalkantoor werk. Indien jy hoftolking kies, sal jy in ‘n hof in die Johannesburg omgewing geplaas word. In albei gevalle sal jy onder die toesig van ervare vertalers, teksredigeerders of hoftolke wees. Die suksesvolle voltooiing van die internskap sal jou voorsien van belangrike dokumente wat jy by jou curriculum vitae kan aanheg wanneer jy begin aansoek doen vir werk nadat jy gegradueer het: ‘n verslag van jou optrede, ‘n bywoningsertifikaat en, in die geval van vertaling en teksredigering, ‘n portefeulje van die werk wat jy gedurende die internskap gedoen het.