Tolking word as ‘n vertaalhandeling, as ‘n spesiale vorm van vertaling beskou. Tolking kan van ander tipes vertaalhandelinge onderskei word deur die onmiddellikheid daarvan: tolking word “hier en nou” verrig tot voordeel van die mense wat oor taal- en kultuurgrense heen wil kommunikeer. ‘n Algemeen bekende manier om tolking van vertaling te onderskei, is dat tolking gewoonlik na gesproke taal verwys wat mondelings of met gebare weergegee word. (aangepas uit Pöchhacker 2004).

Profiele van professionele tolke:

Mangope Motaung:

“Ek het in Februarie 1990 by die Departement van Justisie as tydelike hoftolk by die Johannesburgse Landdroshof aangesluit en is op 1 November 1990 permanent aangestel.

Ek kom oorspronklik van die Suid-Vrystaat in Fauresmith waar ek op 5 Oktober 1966 gebore is en my skoolloopbaan op ‘n baie laat stadium weens omstandighede voltooi het. Ek het by verstek by die Departement aangesluit, want toe ek Johannesburg toe gekom het, het ek in 1989 matriek gedruip en wou toe ‘n verkoopsverteenwoordiger vir ‘n maatskappy in Brixton word.

Ek is deur die dogter (me. Green) van die gesin wat my by my aankoms in Johannesburg ontvang het en wat ‘n verkeersbeampte was, ingelig dat hulle by die Johannesburgse Landdroshof vir persone soek wat vaardig in Afrikaans is.

Ek kan vier tale goed beheers, naamlik Engels, Afrikaans, Tswana en Suid-Sotho. Afrikaans is amper my eerste taal by die huis.

Ek het matriek aan die Denver Sentrum vir Volwassenes in 1993/94 voltooi en in 2004 het ek ‘n mylpaal in my lewe behaal toe ek aan die Noordwes-Universiteit ‘n universiteitsdiploma in Regstolking verwerf het. My studie is deur die Departement van Justisie befonds en ek is baie dankbaar vir hul bydrae. Ek wil egter nog verder op hierdie gebied studeer.

Ek is na verskillende vlakke in my werk bevorder totdat ek in 2008 as Hoofhoftolk by die Evander Kluster (landdroshof) in Mpumalanga aangestel is. In 2010 het ek terug Johannesburg toe getrek in ‘n soortgelyke pos en in Oktober 2011 is ek as toesighouer aangestel van ‘n loodsprojek vir hoftolke van vreemde tale by die Johannesburgse landdroshof en het suksesvol vir die Kluster gekoördineer. Op 1 Augustus 2012 is ek as Inspekteur: Taaldienste vir die Gauteng streek aangestel om die diens te bestuur. Op 1 April 2013 is ek na die Johannesburgse landdroshof oorgeplaas as ‘n Klusterbestuurder: Taaldienste, aangesien my sterk punt in die bedryf is.

Om ‘n taalpraktisyn te wees, is ‘n opwindende loopbaan. Die enigste probleem is, is dat daar nie ‘n beroepsliggaam is nie.”​

________________________

Marné Pienaar:

“Ek het oorspronklik BA Tale studeer (Engels, Afrikaans en Nederlands, Duits en Italiaans). Daarna het ek honneurs in Afrikaans met die fokus op taalkunde gedoen en dit opgevolg met ‘n MA in Kultuurgeskiedenis en ‘n MA in Afrikaans. Later het ek ‘n DLitt et Phil in Afrikaans behaal. Alhoewel ek ‘n akademiese loopbaan gevolg het, was ek nog altyd geïnteresseerd in vertaling, en ‘n aanstelling in die destydse Departement Linguistiek en Literatuurwetenskap aan die RAU (nou die Departement Linguistiek aan UJ0 heet my in die diep kant ingegooi.

Ongeag dat ek al vir meer as twintig jaar vryskut vertaling en redigering doen, is simultane tolking my werklike passie. Ek was bevoorreg om ‘n geleentheid te kry om as simultane tolk by die Gauteng-wetgewer te werk en dit het daartoe gelei dat ek by SAVI as simultane tolk (Engels-Afrikaans/Afrikaans-Engels) geakkrediteer is. Ek het later ook tolke begin oplei by ander wetgewers en by die Universiteit en ek is baie trots op sommige van my oudstudente wat na my mening vandag uitstekende tolke is. My belangstelling in tolking het ook gelei tot ‘n aantal referate en akademiese publikasies.

Simultane tolking neem ‘n mens na plekke en mense waar jy nooit andersins sou kom nie (sal ek ooit die keer vergeet toe en twee-uur in die nag in die hartjie van Bela-Bela uitbundig saam met ‘n duisend landelike vroue gedans het?). Dit brei jou algemene kennis daadwerklik uit (aas jy nie weet wat bek-en-klou-seer of vrotpootjie in Engels is nie, is dit nou die tyd om te leer). Simultane tolking is aanvanklik moeilik, maar dit is soos fietsry, as jy dit eers regkry, is dit heerlik. Dis vinnig, dis nou, as dit klaar is, is dit klaar en die vergoeding is nie te versmaai nie.”