Agtergrond

 

Die Van Wyk Louw-gedenklesing is sedert 1971 'n jaarlikse instelling aan die RAU. Die eerste 11 lesings is in 1982 deur Tafelberg as Oopgelate Kring, onder redakteurskap van prof. F.I.J. van Rensburg uitgegee. Al die lesing van 1982 tot 2005 is in 2005 deur Lapa uitgegee as Die oop gesprek. N.P. van Wyk Louw-gedenklesings (redakteur, Willie Burger).

Die Van Wyk Louw-gedenklesing is by RAU ingestel na 'n voorstel van prof. F.I.J. van Rensburg. Die oogmerke van die jaarlikse gedenklesing is destyds deur hom soos volg gestel (Van Rensburg, 1982:i): "om 'n vaste basis [te] skep vir 'n deurlopende studie van Van Wyk Louw se werk");om die "onverwerklikte moontlikhede" van Louw se oeuvre verder uit te werk. Sodoende is dit nie bloot 'n huldigingslesing of 'n herdenkingslesing nie maar ook die bepaling van die tersaaklikheid van Louw se werk " vir latere tye".

Die lesingreeks moet ook 'n "gesprek met Van Wyk Louw se werk wees, in die gunstigste geval 'n openhartige kritiese konfrontasie daarmee".

Lesings moet Louw se werk as vertrekpunt hê. Dit kan dus nie sonder meer as lesings ter "herdenking" van Louw beskou word nie maar moet put uit Louw se skeppende en ander werk.
Referente moet uit 'n wye terrein betrek word.

Hierdie oogmerke geld steeds. Uit die heftige reaksie wat byvoorbeeld gevolg het op die 2002-lesing deur Luc Renders van België, is dit duidelik dat Louw se werk nog altyd belangrik bly en dus steeds as vertrekpunt van die lesings kan dien.

Oop gesprek

Louw het verskeie begrippe geskep wat steeds dikwels gebruik word. Een daarvan is die "oop gesprek". Louw beskryf 'n "oop gesprek" as 'n gesprek waarin oor "alles" gepraat kan word (1986:3). Die woord "oop" het ten minste drie belangrike implikasies vir Louw:

  • Daarmee bedoel hy in die eerste plek dat daar geen taboe onderwerp is nie, dat geen beperkings geplaas word op gesprekstemas nie. Die gesprek is "oop" as enige deelnewer vry kan voel om oor enige onderwerp te praat.
  • Tweedens beteken "oop" in hierdie verband dat elke gespreksdeelnemer "oop" sal wees om te luister na die ander se standpunte. Dit behels dus hoflikheid ('n gesprek sonder belediging, twis of woede).
  • Derdens behoort elke deelnemer ook "oop" kaarte te speel met sy eie idees en argumente. H/sy behoort bereid te wees om elkeen van sy/haar standpunte breedvoerig te verduidelik en uiteen te sit.

Die doel van so gesprek is dat elke idee, elke standpunt, so helder moontlik gemaak word, deurdat dit van al die kante af ondersoek word. Onderliggend aan hierdie soort gesprek lê die besef dat ek nie alles weet of die finale waarheid besit nie. Daarom moet elke brokkie kennis, ook dit waarvan ek oortuig voel dat dit waar is, voortdurend in hierdie soort gesprek van voor af getoets en ondersoek word.

Louw beskryf drie bedreigings vir die oop gesprek (1986:4):

  • Wanneer 'n persoon so "gebonde" is aan sy eie idees dat h/sy by voorbaat nie van plan is om daarvan afstand te doen nie, nie bereid is om dit eerlik te ondersoek met die houding dat "ek" dalk verkeerd en die ander reg kan wees nie, word die "oop" gesprek geslote.
  • 'n Tweede bedreiging vir die oop gesprek is wanneer 'n persoon sigself verdedig en nie die gespreksonderwerp ondersoek nie. So 'n persoon hou vas aan 'n standpunt ter wille van sy/haar ego.
  • Derdens is diegene wat alleen praktykgerig is – wat dadelik 'n konkrete resultaat wil sien – ook geneig om die gesprek te sluit (gewoon omdat dit 'n taboe plaas op baie onderwerpe of die rigting van die gesprek).

Ten einde die oop gesprek ook oor Louw se werk voort te sit, word daar op hierdie webtuiste ook 'n ruimte geskep vir kommentaar. Hopelik kan dié ruimte geleentheid skep vir stimulerende gesprekvoering.

Verwysings

Louw, N.P. van Wyk. 1986. Versamelde prosa 2. Kaapstad: Human & Rousseau.
Van Rensburg, F.I.J. (red.).1982. Oopgelate kring. Kaapstad: Tafelberg.

​​​
     
Sign In